Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg
Latest Publications


TOTAL DOCUMENTS

51
(FIVE YEARS 51)

H-INDEX

0
(FIVE YEARS 0)

Published By Juta And Company (Pty) Ltd

1996-2207

2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 25-49
Author(s):  
Patrick O’Brien ◽  
Juanitta Calitz

Suid-Afrikaanse howe het oor die afgelope dekade rigting gegee oor die algemene beginsels wat ter sprake kom wanneer die deurlopende vereiste van ’n redelike vooruitsig vir sakeredding van ’n maatskappy oorweeg word. Volgens die hoogste hof van appèl is daar geen algemene minimum voorskrifte om te bepaal of daar ’n redelike vooruitsig vir sakeredding is nie. Dit is dus nie moontlik om ’n afmerklys of templaat te ontwerp van oorwegings wat in hierdie opsig ter sprake kom nie. Daar moet van geval tot geval bepaal word watter oorwegings relevant is om te bepaal of daar ’n redelike vooruitsig vir sakeredding is. Daar moet bepaal word watter gewig aan elke oorweging gegee moet word. Die oorwegings (wat uiteenlopend en selfs teenstrydig mag wees), moet teen mekaar opgeweeg word. Volgens die hoogste hof van appèl is daar twee selfstandige oogmerke vir sakeredding: sakeredding en sakemoord (laasgenoemde wanneer sakeredding wat uitloop op sakemoord, ’n beter opbrengs kan bewerkstellig as onmiddellike likwidasie). In hierdie bydrae word aandag geskenk aan die oorwegings wat in die regspraak oor die afgelope jare ter sprake gekom het om te bepaal of daar ’n redelike vooruitsig vir sakeredding is. Eerstens word die oorwegings bespreek wat by albei oogmerke vir sakeredding ter sprake mag kom, maar moontlik meer relevant is wanneer die oogmerk inderdaad sakeredding is. Daarna word die oorwegings bespreek wat veral ter sprake kom wanneer die oogmerk is dat ’n beter opbrengs bewerkstellig word deur sakeredding as by wyse van likwidasie. Alhoewel hierdie oorwegings geen afmerklys of templaat verteenwoordig nie, word vertrou dat hierdie ontleding van die regspraak, tesame met die algemene beginsels wat volgens die regspraak by die vereiste van ’n redelike vooruitsig vir sakeredding ter sprake kom, van hulp kan wees vir diegene wat met die beantwoording van vrae in verband met hierdie vereiste gekonfronteer word.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 191-204
Author(s):  
Thabo Legwaila
Keyword(s):  

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is verantwoordelik vir die administrasie en invordering van belasting. Ten einde hierdie mandaat effektief te verwesenlik, het die SAID verreikende magte kragtens Deel 1 van die Wet op die Suid-Afrikaanse Inkomstediens 34 van 1997. Dit gebeur dikwels dat belastingbetalers meer aan die SAID betaal as die verskuldigde belasting of dat terughoudingsagente, soos werkgewers of die betalers van rente, dividende ensovoorts, meer as die verskuldigde belasting invorder en oorbetaal aan die SAID. Dit veroorsaak ’n situasie waar die SAID die oortollige bedrag aan die belastingbetaler moet terugbetaal. Artikel 190 van die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011, wat gemoeid is met die terugbetalings van oorbetalings, bepaal dat die SAID ’n terugbetaling, wat rente insluit, moet maak indien ’n persoon geregtig is op die terugbetaling omdat die bedrag behoorlik terugbetaalbaar is kragtens ’n belastingwet en dit so aangetoon word in ’n aanslag of die bedrag wat betaal is meer is as die bedrag betaalbaar volgens die aanslag. Die SAID hoef egter nie ’n terugbetaling te magtig totdat ’n verifikasie, inspeksie, oudit of strafregtelike ondersoek van die terugbetaling afgehandel is nie. In die Rappa Resources-saak het die hof die situasie oorweeg waar ’n belastingbetaler geregtig was op ’n terugbetaling vanaf die SAID, maar die SAID nie die terugbetaling tydig gemaak het nie omrede die belastingbetaler aan ’n oudit onderworpe was. Die hof het bevind dat die SAID die oudit onnodig vertraag het, wat daartoe gelei het dat die terugbetaling weerhou is. As sulks het die hof bevind dat die SAID die terugbetaling moet maak en die oudit binne ’n redelike tyd moet afhandel. Die hof het egter onbehoorlike klem op die besigheidsmodel van die belastingbetaler geplaas toe dit bevind het dat wanneer die SAID ’n terugbetaling weerhou in gevalle waar dit noodsaaklik is vir die besigheidsmodel van ’n belastingbetaler, soos in hierdie geval, die oudit nie ’n onbepaalde tyd kan neem om gefinaliseer te word nie. In ’n ander saak, Top Watch (Pty) Ltd v The Commissioner of the South African Revenue Service (2018 JDR 1311 (GJ)) het die hof bevind dat die SAID nie kon bewys dat daar ’n uitstaande skuld was nie en daarom kon die SAID nie die terugbetaling weerhou nie. Hierdie vonnisbespreking wys op die SAID se versuim om die behoorlike proses ten opsigte van terugbetalings te volg, die onregverdigheid wat so ’n weerhouding vir belastingbetalers inhou en die rol wat die belastingombudkantoor gespeel het om belastingbetalers by te staan om verskuldigde terugbetalings vanaf die SAID te verkry. Dit dui verder op die SAID se inbreukmaking op belastingbetalers se reg tot finaliteit; die nadelige gevolge wat die weerhouding van terugbetalings op belastingbetalers het; en illustreer, met behulp van ’n vergelykende analise, dat die SAID se verontagsaming van die reg, wat blyk praktyk te wees vir dié belasting invorderaar, heeltemal onregverdigbaar is. Die kort vergelykende analise dui daarop dat die statutêre bepalings nie té beperkend of té problematies vir die SAID is nie.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 1-24
Author(s):  
Donrich Thaldar ◽  
Bonginkosi Shozi

Medies-geassisteerde voortplanting in Suid-Afrika word tans gereguleer deur regulasies wat in 2012 gepromulgeer is ingevolge die Nasionale Gesondheidswet 61 van 2003. In Maart 2021 het die minister van Gesondheid nuwe konsepregulasies gepubliseer vir kommentaar. Hierdie artikel ontleed die nuwe konsepregulasies teen die agtergrond van groeiende regspraak in die gebied van medies-geassisteerde voortplanting, asook teen die agtergrond van nuwe tegnologiese ontwikkeling in hierdie gebied oor die afgelope dekade. In die eerste deel van die artikel word aspekte waarin die konsepregulasies verbeter het op die huidige regulasies uitgewys en ontleed, te wete (i) die nuwe, meer akkurate definisie van “gameetskenker”; (ii) die verhoogde perk op die hoeveelheid kinders wat verwek mag word met die gamete van ’n enkele skenker; (iii) die betrokkenheid van die direkteur-generaal in die vasstelling van vergoeding vir verskaffing van gamete; en (iv) die terugkeer na gemeenregtelike regulering van eienaarskap van gamete en in vitro embrio’s. Die tweede deel van die artikel word toegespits op aspekte waarin die konsepregulasies verbeter behoort te word, naamlik (i) inkonsekwentheid en onsamehangendheid van verskeie definisies; (ii) die beperking dat spermselle slegs deur self-stimulasie bekom mag word vir medies-geassisteerde voortplanting; en (iii) die gebrek aan regulering van menslike oorerflike genoom-redigering. Die derde deel van die artikel verskaf ’n oorsig van die drie bepalings van die 2012 regulasies wat tans die onderwerp is van ’n grondwetlike hofsaak en wys hoe die 2021 konsepregulasies poog om die knelpunte in die hofsaak aan te spreek. Hierdie drie bepalings is (i) die vereiste dat ’n paartjie (hetsy getroud of in ’n permanente verhouding) hulself moet onderwerp aan sielkundige evaluasie indien hulle mekaar se gamete wil gebruik vir medies-geassisteerde voortplanting; (ii) die verbod op voor-inplantingstoetsing van in vitro embrio’s vir nie-terapeutiese geslagseleksie; en (iii) die verbod op bekendmaking – deur énigiemand – van inligting oor mense wat gebruik gemaak het van medies-geassisteerde voortplanting, óf wat verwek is deur medies-geassisteerde voortplanting, óf wat gamete geskenk het vir medies-geassisteerde voortplanting. Die gevolgtrekking word gemaak dat die konsepregulasies ’n prysenswaardige poging is om op die bestaande regulasies te verbeter, maar dat dit nog in talle opsigte wesenlik tekort skiet. Ten einde hierdie tekortkominge aan te spreek, word omvattende aanbevelings gemaak oor hoe om die konsepregulasies aan te pas.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 143-158
Author(s):  
JC Sonnekus

According to the headnote attached to the most recent decision under discussion, the litigation turned on the quantification of the total loss suffered by M as alleged holder of a right of habitatio after S as reputed owner of the farm revoked the verbal agreement between the parties entitling M to occupy the dwelling ad infinitum on condition that he renovates the dwelling to a habitable state. Notwithstanding the conviction of the judges involved, it is clear that at no stage were any of the requirements for the acquisition or vesting of a limited real right of habitatio complied with. No limited real right was registered against the farm and S as the alleged grantor of the limited real right was at no stage the owner of the property. He could not have been entitled to burden the property of another with such limited real right. A contractual arrangement between the parties, however, did exist granting the claimant an entitlement to occupy the dwelling. The initially friendly relations between the litigants soured abruptly in February 2013 when S evicted M from the farm because of a supposed blasphemous comment by M. This happened after the claimant had already invested significantly in the restoration and modernisation of the old dilapidated dwelling. “The plaintiff regarded this as a repudiation of the contract between him and the defendant, accepted it as such and left the farm, effectively halting the renovation project” (par 14 read with par 5.4 of the 2016-decision). His claim for compensation of the loss suffered was held by the court to be limited to the amounts reflected in the receipts representing the cost of building material when it was acquired. It is submitted that the court should also have taken note of the loss suffered as positive interest, because the claimant forfeited the calculated benefit of life-long free occupation in the restored dwelling. Because of the underlying agreement between the parties to the litigation, the patrimonial benefit that accrued to the estate of the owner of the farm due to the objective rules of accessio cannot be classified as actionable unjustified enrichment. The principles of unjustified enrichment do not apply – the resulting detriment or loss of M was cum causa and not sine causa. The remarks of the court pointing to unjustified enrichment do not convince. Damages should have been calculated to cover the loss in positive interest of the claimant and not merely his negative interest, ie the amounts paid for the building material used in the renovation. The court, however, held: “I’m satisfied that the plaintiff has adduced sufficient evidence to prove his claim for the costs of renovating the farmhouse on a balance of probabilities” (par 23). The last mentioned mode of quantification of the loss suffered would have been more in place where merely a delict was involved, as eg where the damaged motor vehicle should be repaired to the state it was in before the accident occurred. Had the judges in this case done a correct assessment of loss upon cancellation for breach of contract, it would have led to a respect of the rule of law and would not have been to the detriment of the claimant. The legal principles that should have been applied had already been clearly formulated more than a century ago: “The sufferer by such a breach should be placed in the position he would have occupied had the contract been performed, so far as that can be done by the payment of money, and without undue hardship to the defaulting party …” Victoria Falls & Transvaal Power Co Ltd v Consolidated Langlaagte Mines Ltd (1915 AD 1 22).


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 160-171
Author(s):  
Johan Scott
Keyword(s):  

Die Khumalo-saak handel oor ’n bejaarde man (K) se aansoek om ’n spoliasiebevel teen L (die eienaar van ’n plaas waaroor K jare lank vir hom ’n pad na sy woning toegeëien het) wat eensklaps sy grond toegespan het en geweier het om die heksleutels aan K – ’n okkupeerder ingevolge artikel 1 van die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg 62 van 1997, woonagtig op ’n buurplaas – te oorhandig ten einde hom in staat te stel om steeds die pad te gebruik. Ofskoon daar ’n ander pad na K se woning was, was dit uiters swak en slegs geskik vir gebruik deur 4×4 voertuie. Aangesien K net ’n ou bakkie besit het, het hy geweldig ongerief verduur as gevolg van L se optrede. L het aangevoer dat hy goeie redes gehad het vir sy optrede, onder andere bodembewaring en om wilddiewe hok te slaan, asook dat K boonop nie ingevolge ’n serwituut van via toegang oor sy plaas gehad het nie. Die grondeisehof het op grond van ’n bedenklike toepassing van artikel 22(2)(c) van die Wet op Herstel van Grondregte 22 van 1994 vir hom jurisdiksie toegeëien. Verder het die hof, strydig met die robuuste en spoedeisende aard van die mandament van spolie, die beswaar dat die applikant sy aansoek eers na twee jaar en agt maande geloods het, summier verwerp en daarnaas, ook strydig met bestaande beginsel en praktyk, in besonderhede op die meriete van K se saak ingegaan om tot die beslissing te geraak het dat daar ’n stilswyende precarium tussen K en L gesluit is, omdat L se werknemers wat sienderoë toegelaat het dat K die pad oor L se grond gebruik, as L se verteenwoordigers vir doeleindes van sluiting van die precarium-ooreenkoms bevind is. Ingevolge die normale reëls moes die prekaris, K, dus volgens die hof redelike kennis van die precarium dans, L, ontvang het voordat laasgenoemde sy plaas kon afsper. Die hof het in wese “geregtelik kennis geneem” van hierdie precarium en hom geensins gesteur aan die bestaande reëls van die kontraktereg en, in die besonder, die verteenwoordigingsreg nie. Veral oppervlakkig was die hof se behandeling van die vereiste van skending van quasi-besit vir die mandament van spolie in gevalle waar die applikant nie in daadwerklike beheer van ’n onroerende saak was nie. Die hof het hier in werklikheid deur middel van die toepassing van spoliasiebeginsels spesifieke nakoming van die precarium-kontrak gelas. Daar word betoog dat die hof uit sy pad gegaan het om K uit sy verknorsing te help, ofskoon daar in die lig van geldende regsreëls geen regverdiging vir sodanige regshulp was nie. Hoogstens het die feit dat L jarelank vir K toegelaat het om sy pad te gebruik op toestemming – ’n eensydige regshandeling wat te eniger tyd herroep kan word – neergekom en L was dus ten volle daarop geregtig om sy plaas af te sper. Daar kan verder geensins betoog word dat daar ’n grondwetlike verpligting op L gerus het om K se gebruik van die pad oor sy plaas te gedoog nie. Deur hierdie uitspraak het die hof ’n gevaarlike presedent geskep.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 122-142
Author(s):  
Patrick O’Brien ◽  
Yvette Joubert

Beste internasionale praktyk verg dat die concursus creditorum wat teweeggebring word by die aanvang van insolvensieverrigtinge, regsgedinge teen die skuldenaar opskort ten opsigte van eise wat deel vorm van die concursus. Die Suid-Afrikaanse wetgewing wat hoofsaaklik insolvensie- en likwidasieverrigtinge beheers, is die Insolvensiewet 24 van 1936 en die Maatskappywet 61 van 1973. Albei wette kan vertolk word om gevolg te gee aan ’n algemene opskorting van regsgedinge teen die skuldenaar wanneer ’n concursus creditorum ontstaan. Ongelukkig het die Suid-Afrikaanse howe nie die wetgewing noodwendig op hierdie wyse vertolk nie. Beide wette verleen ’n grasietydperk na die ontstaan van ’n concursus creditorum waarbinne ’n skuldeiser die geleentheid gebied word om hangende regsgedinge voort te sit sonder toestemming van die hof. Die Maatskappywet brei hierdie geleentheid uit na die instelling van nuwe regsgedinge de novo. Daar is egter formaliteite waaraan die skuldeiser moet voldoen gedurende hierdie grasietydperk. Dit sluit in dat kennisgewing gegee moet word van die voorneme om die regsgeding voort te sit of in te stel aan die kurator, likwidateur of meester, afhangende van die omstandighede. Indien ’n skuldeiser nie gedurende die grasietydperk aan hierdie formaliteite voldoen nie, het die skuldeiser die toestemming van die hof nodig om die regsgeding voort te sit of in te stel, afhangende van die geval. Volgens die regspraak mag ’n kurator of likwidateur ook toestem tot die instel of voortsetting van die regsgeding. In die aantekening word die statutêre meganisme ontleed wat bestaan om kollektief die eise teen insolvente boedels en regspersone in likwidasie te bewys. Hierdie statutêre meganisme maak dit moontlik om baie vinniger en goedkoper die eise van skuldeisers te hanteer as wat die geval sou wees as regsgedinge ingestel of voortgesit word teen die skuldenaar. Die statutêre meganisme maak dit deurlopend moontlik vir skuldeisers om hulle na die howe te wend indien hulle nie daarin slaag om hulle eise af te dwing deur van die statutêre meganisme gebruik te maak nie. Die statutêre afdwingingsmeganisme raak dus geensins ’n skuldeiser se reg tot toegang tot howe nadelig nie. Die skuldeiser word voorts beskerm deur ’n spesiale reëling vervat in die Verjaringswet 68 van 1969 wat die afloop van verjaring uitstel terwyl die skuld die onderwerp is van ’n eis wat volgens die statutêre afdwingingsmeganisme gehanteer word. Met die aantekening doen die outeurs aan die hand dat, volgens internasionale praktyk, skuldeisers verplig moet wees om die statutêre afdwingingsmeganisme te gebruik indien hulle nie binne die grasietydperk aan die voorgeskrewe formaliteite voldoen vir voortsetting of instelling van regsgedinge nie. Alhoewel die Insolvensiewet slegs ’n redelike verskoning van ’n skuldeiser verg om ’n hangende regsgeding voort te sit indien daar nie binne die grasietydperk aan die formaliteite voldoen word nie, verg die Maatskappywet dat die hof alle faktore moet oorweeg om te besluit of die regsgeding ingestel of voortgesit mag word. Dit sluit in die belange van ander skuldeisers en die likwidateur. Die Engelse howe vra pertinent waarom die skuldeiser verkies om van ’n duur en uitgerekte regsgeding gebruik te maak, eerder as om in die kollektiewe belang van die skuldeisers gebruik te maak van die veel goedkoper en vinniger statutêre afdwingingsmeganisme. Daar word aan die hand gedoen dat Suid-Afrikaanse howe daardie benadering behoort te volg. Dit is die hooggeregshof by maatskappye en beslote korporasies, of die landdroshof by beslote korporasies, waar die geregistreerde kantoor van die betrokke regspersoon geleë is wat die nodige toestemming moet gee vir instelling of voortsetting van die regsgeding, ongeag die forum wat die geding moet aanhoor. Dit is so omdat die hof alle skuldeisers en likwidateurs se belange in ag moet neem by hierdie besluit, en nie net die belange van ’n spesifieke skuldeiser en die skuldenaar wat dalk deur ’n spesiale tribunaal (soos ’n arbitrasieliggaam of die arbeidshof) oorweeg moet word nie. Daar word ten slotte aan die hand gedoen dat die grasietydperk vir die instel of voortsetting van regsgedinge nie in ooreenstemming met beste internasionale praktyk is nie. Dit behoort tydens wetswysiging geskrap te word.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 50-75
Author(s):  
JJ Du Toit ◽  
Marko Svicevic
Keyword(s):  

Die ondervraging en kruisondervraging van getuies, viva voce, in ’n uitleweringsaansoek bly ’n onderwerp wat nie noodwendig baie aandag geniet in die regspraak nie. Is dit regtens noodsaaklik dat getuies inderdaad viva voce geroep moet word om te getuig in ’n uitleweringsaansoek? Moet ’n persoon wat voor die hof verskyn in ’n uitleweringsaansoek toegelaat word om getuies te roep om die getuienis wat die staat aangebied het, viva voce te weerlê vir die uiteindelike beoordeling deur die voorsittende beampte en die minister van justisie en korrektiewe dienste? In hierdie artikel bespreek die outeurs die Suid-Afrikaanse en sommige buitelandse regsposisies en wys op die relevante en soms uiteenlopende regsgesag op dié punt. Hulle werp verder lig op die omstandighede waaronder viva voce-getuienis aangebied behoort te word in ’n uitleweringsaansoek. In besonder word die aard van uitleweringsaansoeke in ag geneem. Sodanige uitleweringsondersoeke is sui generis van aard en gevolglik verskil dit van die prosedure wat gevolg word in kriminele verhore. In die eerste deel van die artikel ondersoek die outeurs in detail hoe uitleweringsondersoeke gewoonlik onder die vaandel van die Wet op Uitlewering 67 van 1962 gehou word. Daarna ondersoek hulle die regspraak om vas te stel hoe die Suid-Afrikaanse howe oor jare die bepalings van die Uitleweringswet geïnterpreteer het. In die lig daarvan word vervolgens ondersoek hoe verskeie ander jurisdiksies hul eie prosedures vasgestel het ten opsigte van die roep van getuies om viva voce te getuig. Die volgende jurisdiksies word ondersoek: Malawi, die Bahamas, die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk en Kanada. Na evaluering van die regspraak van Suid-Afrikaanse howe en die howe van ander lande, word verskeie slotopmerkings gemaak wat in ag geneem behoort te word voordat viva voce-getuienis tydens ’n uitleweringsaansoek in Suid-Afrika aangebied behoort te word. Hierdie oorwegings sluit onder andere in dat die sui generis aard van uitleweringsverrigtinge nooit uit die oog verloor behoort te word nie en dat beide partye tot die aansoek die geleentheid gebied behoort te word om getuienis aan te bied, insluitend viva voce-getuienis. Die oogmerk van die outeurs is om vir die leser ’n gebalanseerde oorsig van die regspraak te voorsien wat oorweeg kan word wanneer besluit moet word om viva voce getuienis aan te bied tydens ’n uitleweringsaansoek al dan nie. Die outeurs beveel ten slotte aan dat die huidige Uitleweringswet gewysig behoort te word om meer duidelikheid te verskaf hoe uitleweringsaansoeke in die praktyk behoort plaas te vind veral weens die feit dat voorlopige ondersoeke, wat tot ’n mate die normale prosedure in die verlede was, al vir ’n geruime tyd in die verband in onbruik verval het.


2022 ◽  
Vol 2022 (1) ◽  
pp. 106-121
Author(s):  
Prince Obiri-Korang

In ’n regstelsel waar partye by internasionale kontrakte die outonomie gelaat word om die reg van toepassing op hulle kontrak te kies, word algemeen verwag dat die reg wat hulle kies die reg van ’n staat is. Die keuse van enige soort buitestaatlike reg as die reg van toepassing op kommersiële kontrakte word gewoonlik nie deur die howe toegelaat nie. Indien ’n bepaalde internasionale kontrak ’n arbitrasieklousule bevat, verskil die posisie. Daar is presedente wat toon dat arbitrasie-tribunale bereid is om regskeuses in internasionale kontrakte te handhaaf en toe te pas, ongeag die aard van die gekose reg, hetsy dit staatlik, of buitestaatlik is. Die vraag wat in hierdie verband ontstaan, is waarom howe arbitrasietoekennings sonder voorbehoud afdwing, selfs wanneer ’n nie-staatlike reg deur die tribunaal toegepas is om tot die beslissing te kom wat nou afgedwing moet word, maar terselfdertyd die toepassing van dieselfde buitestaatlike reg verwerp in sake wat direk voor hulle kom. In hierdie artikel argumenteer die outeur dat howe die keuse deur die partye van buitestaatlike reg behoort te aanvaar op grond van die beginsel van partyoutonomie. Die outonomiebeginsel speel ’n rol in alle kommersiële kontrakte. In die internasionale kontraktereg word partyoutonomie vandag beskou as die belangrikste verbindingsfaktor vir die vasstelling van die reg. Die erkenning van die keuse van buitestaatlike reg bied aan partye die geleentheid om toepaslike regsreëls te kies vir die hantering van spesifieke juridiese uitdagings wat verband hou met hul kontrak. Partye sal baat by die gevolglike regsekerheid en voorspelbaarheid wat die reg betref wat van toepassing is op die kontrak. Dit sal sodoende help om lang en duur geskille te voorkom wat bloot handel oor welke reg van toepassing sou wees. Die outeur bespreek welke kategorieë van buitestaatlike reg gekies behoort te kan word om internasionale kontrakte te beheers.


Sign in / Sign up

Export Citation Format

Share Document